As jy groente soek op Suurbraak en oom Appie het dit nie, is jy deurmekaar met die seisoene. Só sê inwoners van dié klein Suid-Kaapse dorpie oor hul oudste kleinboer, die 73-jarige mnr. Abraham Siegelaar, alom bekend as oom Appie. Hy is ook die oudste kleinboer in die Swellendam-distrik.
’n Plattelandse dorp is nie ’n dorp as sy naam nie teen ’n heuwel of berg met klippe uitgepak is nie. Suurbraak is só ’n dorpie en oom Appie is een van sy sout-van-die-aarde-inwoners.
“Juffrou, die nuwe Suid-Afrika het klomp dinge gebring, goeies en slegtes. Vandag se kinders leer gou die verkeerde dinge van die stad aan en word baie maklik omgepraat.
“Die grootste ding waarom die kinders so verkeerd loop, is omdat hulle nie by die skool of huis getug word nie,” knik oom Appie.
“Die eerste stap om dinge weer reg te kry hier op Suurbraak, is om met die ouers te onderhandel, want jy moet dinge van binne na buite regmaak.
“My verlange is ook dat die Suurbrakers nouer met die plaaslike polisie moet saamwerk om dit weer ’n ordentlike plek te maak.
“Dit sal ’n tyd vat, want jy kan nie meer deesdae vir die kinders sê wat om te doen nie. Hulle hardloop gou om jou te gaan verkla, want hulle het mos regte.
“Baie dwaal net hier rond en as jy hulle vra om te kom help in jou landerye, het hulle klomp ekskusies.
“Ek werk van vroegdag af op die grondjies waar ek groente verbou en jy bly gebukkend oor die grond. Van die kinders wat kom help, wil op hul hurke sit om te saai of te plant en kla gou oor hul rûe wat afbreek.
“As ons weer die saadjie van die tradisies kan plant en dit gereeld water gee, sal ons op die regte pad wees. Hier is baie ‘inkommers’ (nie gebore Suurbrakers) wat ook hul deel wil bydra vir die gemeenskap.
“Ons lewe deesdae by mekaar verby. Jy kan niemand meer vertrou nie, nie eens jou gewaste hemp nie. As jy hom weer aantrek, weet jy nie watter gogga jou gaan byt of steek nie!”
Hy is op sy gelukkigste as hy in die grond kan werk.
“Ons moet leer om te deel en uitreik na die onbevoorregtes. In my 73 jaar was ek nog nooit siek nie, want ek rook of drink nie en dra ook nie merke (tatoeërmerke) op my lyf nie. My liggaam is die tempel van die Here en ek leef daagliks by God en sy gebod.
“My pa het my geleer dat jy jou moet oppas wanneer jy jonk is. Jy moet steel met jou oog, maar hou jou hande langs jou sye.
“Nadat ek klaargemaak het by die departement van landbou, het ek besluit om ’n kleinboer te word en nie net op my pensioen staat te maak nie.
“As ek so na vandag se groentepryse, is ek maar bly oor my groente wat op die lande staan – uie, boerbone, wortels, beet, koljander, pampoen, tamaties, patats en aartappels.
“Ek dien in die kerkraad en hou bidure.
“Die gesegde lui dat jy jou nie moet bekommer oor die skape in die kerk nie, maar dié wat buite is. Hier is meer as te veel op Suurbraak en ek kyk maar waar ek ’n verskil kan maak.”





















Subscribe to RSS Feed